Bief stroganoff

 

Ek maak die gereggie uit enige vleis wat ek in blokkies kan sny of repies.  As dit `n goedkoper snit vleis is wat geneig is om `n bietjie taai te wees, sal ek dit eers sag stowe voordat ek die stroganoff maak.  China en Chris is mal hieroor!

 

1kg beesfilet of ander biefstuk van goeie gehalte

1 ui gekap

1 knoffelhuisie, gekneus

125g botter of margarien

300g vars sampioene

100ml koekmeel

5ml sout

1ml peper

250ml biefaftreksel

15ml sjerrie

250ml dik suurroom

5ml worcestersous

 

Sny beesvleis in repies of blokkies.  Braai ui en knoffel en sampioene in botter tot sag en skep uit en hou eenkant.  Meng die koekmeel, sout en peper en rol vleis daarin en braai tot tot bruin in dieselfde pot.  Skep die gebraaide vleisrepies en uie mengsel terug in die pot en voeg die aftreksel, sjerrie by en laat opkook.  Sit die deksel op, verlaag die hitte en prut sowat 25 minute.  Haal die pot van die stoof af en roer die suurroom en worcestersous by. Plaas terug op die stoof en warm op oor lae hitte.  Sit dit warm voor.