Gemmerbier

 

Hierdie gemmerbier word elke jaar op die Bosveldfees verkoop deur die APK kerk.  Glo my dis werklik ‘n wenner.  Die reseppie het ek by my vriendin Cornel gebedel wat op haar beurt weer mooi moes praat om die besbewaarde geheim te kon kry.

 

9 liter water

7k suiker

1½ desertlepel fyn gemmer

1 pakkie kremetart

125g rosyne

halwe koekie suurdeeg

 

Gooi ‘n koppie kookwater oor die rosyne en laat staan vir 1½ uur.  Los suurdeeg met ‘n bietjie suiker op in ‘n ½ liter lou water.  Meng suiker en water in ‘n houer met ‘n deksel.  Roer alle bestandele by en roer kort kort totdat al die suiker opgelos is.  Moenie die deksel heeltemal opsit nie want dit bou gas op.  Laat staan vir ongeveer 2-3 dae totdat rosyne bo dryf.  Gooi deur ‘n kaasdoek of fyn sif.  Bottel gemmerbier en gooi ‘n paar rosyne in elke bottel en verkoel.