Sommer maar net koekies

 

Moenie dat hierdie reseppie se naam jou flous nie, probeer hom gerus, maar sorg net dat jy die botter al die vorige aand uit die yskas uitgehaal het.  Dit lewer om en by 8 dosyn koekies.

 

250g botter of margarien

500ml suiker

2 eiers goed geklits

5k bruismeel(as gewone koekmeel gebruik word, voeg net 5t bakpoeier ook by)

knypie sout

5ml koeksoda

15ml melk

250ml klapper

125ml korente

 

Stel oond op 200 grade.  Room botter en suiker, voeg geklitste eiers by.  Sif die bruismeel en sout drie keer saam en voeg by die geroomde mengsel.  Voeg koeksoda opgelos in melk by, dan klapper en korente en meng deeglik.  Dis `n sagte hanteerbare deeg.  Rol klein balletjies, druk plat met `n vurk en bak vir 10-15 minute.