Rooibostee-sjokeladekoek

 

Die sjokeladekoek is glad nie ryk nie en heerlik klam.  Boonop is dit sommer binne `n japtrap klaar aangemaak.  Die versiersel is ook `n aangename variasie op gewone versiersuiker veral as jy nie baie daarvan hou nie.

 

250ml kookwater

5ml rooibosteeblare of 1 sakkie

125ml kakao

4 ekstra groot eiers, geskei

375ml suiker

125ml olie

5ml vanieljegeursel

450ml koekmeel

15ml bakpoeier

2ml sout

 

Sjokelade versiersel

400ml kookwater

10ml rooibosteeblare of 2 sakkies

250ml suiker

50ml botter

50ml kakao

50ml mielieblom

7ml vanieljegeursel

heel haselneute

 

Voorverhit oon na 180 grade.  Smeer twee panne.  Giet die kookwater oor die teeblare en laat staan vir 20 min of tot tee lekker sterk getrek het.  Giet deur sif as jy los blare gebruik het en voeg kakao daarby, meng tot `n gladde pasta.  Klits die eiergele en suiker saam tot lig en romerig.  Voeg die olie en die geursel by en voeg die kakaomensel by en meng deeglik.  Sif die koekmeel, bakpoeier en sout saam.  Voeg by en meng deeglik.  Klits die eierwitte tot stywe punte en vou liggies in.  Giet in panne en bak 40 min lank of tot toetspen skoon uitkom.  Bedek die koek met foelie indien dit te bruin bo-op word.  Laat effens afkoel en keer uit op draadrak.

Giet die kookwater oor die teeblare en laat trek vir 20 min.  Giet deur sif.  Voeg die suiker en botter by en verhit tot suiker gesmelt is.  Meng die kakao en mielieblom met `n bietjie tee en meng tot `n gladde pasta.  Voeg by die orige rooibosteemengsel en verhit tot die mengsel kook en verdik.  Roer gedurig.  Laat effens afkoel en plaas in koelkas om goed koud te word.  Smeer sowat een derde van die versiersel op die een koeklaag en plaas die ander koeklaag bo-op.  Meng `n paar haselneute met die orige versiersel en smeer bo-oor. Onthou die versiersel is slapperig.  Lewer `n groot koek.