Freda se vinnige suurlemoenkoek

 

Freda my kollega, het hierdie lekker reseppie in `n tydskrif opgespoor en met my gedeel.  Ek het hom `n bietjie aangepas na my smaak.  Vir die koek word alles saamgegooi, geroer en gebak.  Ek plaas die oorsponklike resep net so maar sal ook my veranderings plaas.  Ek verdubbel gewoonlik die koek dan pas hy  in `n oondpan.

 

100g sagte botter

350ml bruismeel(koekmeel kan ook gebruik word)

5ml bakpoeier(indien gewone koekmeel gebruik voeg nog 1 tl ekstra by)

200ml strooisuiker(ek gebruik suiker as ek uit strooisuiker is)

2 ekstra groot eiers 

90ml melk

skil van een suurlemoen

 

Glasuursel

Sap van een suurlemoen (45ml)

100ml strooisuiker

gekristaliseerde suurlemoenrepies

 

Voorverhit die oond tot 180 grade.  Smeer `n pan 18x28cm goed met margarien.  Plaas al die bestandele in `n mengbak en klits goed met `n elektriese menger 2-3 min tot goed gemeng en glad.  Giet in die pan en maak bokant gelyk.  Bak 30-40 min of tot ferm as liggies daarop gedruk word.  Klits intussen die suurlemoensap en strooisuiker saam en giet oor die koek net nadat dit uit die oond kom.  Laat afkoel.  Sny in blokkies en versier met versuikerde skilrepies.

 

My glasuursel

 

Ek neem 2 k versiersuiker en meng dit met `n klein bietjie warm water tot `n smeerbare pasta.  `n Druppel suurlemoengeursel word bygevoeg.  Sodra gemeng smeer oor koek wat effens afgekoel het en versier soos verkies.  Ma Bootha is lief vir `n Suurlemoenkoek en ek maak dit altyd vir haar wanneer ek gaan kuier.  Baie lekker!