Skons koevertjies

 

Hierdie skons koevertjies kan gevries word maar sonder die room.  Plaas net voor opdiening dan die room op.

 

625ml koekmeel

20ml bakpoeier

2ml sout

10ml strooisuiker

200ml botter of margarien

1 ekstra groot eier

100ml melk of water of half van elk

 

Sif die koekmeel, bakpoeier en sout saam.  Voeg by die strooisuiker en meng.  Vryf in die botter of margarien totdat dit soos broodkrummels lyk.    Klits die eier en melk.  Maak ‘n holte in die deeg en sny met ‘n mes die eiermengsel  in tot net gemeng.  Voeg ‘n bietjie ekstra meel by indien die deeg te sag is. Of ekstra melk as dit te styf is.  Rol die deeg uit tot 5mm dik op ‘n meelbestrooide plank.  Sny vierkante van so 5 by 5cm.  Smeer botter of margarien oor die vierkante en plaas ‘n bietjie appelkooskonfyt in die middel.  Vou die 4 hoeke na die middel en knyp aanmekaar dat dit soos ‘n koevertjie lyk.  Plaas die koevertjies op ‘n gesmeerde bakplaat en bak 12 tot 15min  by 200 grade.  Onthou net om die pan net onder die middel in die oond te plaas.  Spuit roomrossette in die middel van die koeverte net voor opdiening.