Gevulde gemmerrolletjies

 

Hierdie reseppie is werklik doodmaklik en baie goedkoop.  Ek maak dit gewoonlik as ek iets moet maak om saam te vat kerk toe.  Dit lyk of jy verskriklik baie moeite moes gedoen het wat nie regtig so is nie.

 

90g botter

75ml suiker

150ml gouestroop

sap van ‘n halwe suurlemoen

175ml koekmeel

5ml fyn gemmer

30ml brandewyn

200ml room styf geklits

 

Voorverhit die oond tot 180 grade.  Smeer bakplaat deeglik met botter.  Smelt die botter, suiker, stroop en suurlemoensap saam in ‘n kastrol oor matige hitte.  Verwyder van hitte en klits die meel, gemmer en brandewyn by.  Laat die mengsel heeltemal afkoel.  Drup teelepelsvol van die mengsel op die bakplaat.  Bak 8-10 min of tot goudbruin.  Skakel die oond af en maak die oond oop.  Hou die koekies in die oond sodat dit warm bly.  Smeer ‘n houtlepel se steel deeglik met botter.  Lig een koekie op ‘n slag met ‘n eierspaan op en draai om die steel.  Gebruik gerus plastiese handskoene, dit help vir die brand.  Laat gly dit dadelik van die steel af en laat afkoel op ‘n afkoelrak.  Herhaal die proses tot al die koekies gerol is.  Vul die rolletjies met die room net voor dit voorgesit word.  Maak 15 tot 20 rolletjies.  Bak eers net twee koekies om te toets of die beslag reg is.  As die mengsel te dun is sal dit net ‘n plat massa maak wat moeilik oplig.  Indien so, gooi dan nog ‘n bietjie meel by.  Die baktyd is belangrik!  As dit nie lank genoeg bak nie sal dit taai wees en nie bros nie.  Werk vinnig met die koekies anders sal dit koud word.  Vir variasie kan jy die koekies in ‘n muffinpannetjie sit sodra dit uit die oond kom.  Ek het ook ondervind dat jy nie die rolletjies in ‘n yskas moet sit nie, dit word taaierig.