Maaskaastert

 

Hierdie tert is ek baie lief om te maak.  Die klapperkors kan vervang word met `n beskuitjiekors as jy wil.  Ek noem dit want nie almal hou van klapper nie, soos my sus Thea!

 

Klapperkors

625ml fyn klapper

80ml botter of margarien, gesmelt

 

Vulsel

125ml kondensmelk

30ml suurlemoensap

250g maaskaas

125ml room, styf geklits

 

Glanslaag

5ml gelatien

30ml water

125ml fyn appelkooskonfyt

30ml suiker

 

Rooster die klapper in die oond of in `n pan tot goudbruin.  Hou dit fyn dop, want dit raak maklik te donker.  Meng die klapper en botter of margarien goed en druk dit teen die wand en op die boom van `n tertbord met `n volume van 1 liter.  Plaas die kors in die yskas tot en met gebruik.  Meng die kondensmelk en suurlemoensap saam en voeg die maaskaas by.  Klits die room styf en voeg by die kondensmelkmengsel.  Skep die vulsel in die tertkors en plaas in die yskas tot gestol.  Meng intussen die appelkooskonfyt en die suiker in `n pan en  en meng oor lae hitte.  Onthou dit brand maklik.  Meng die gelatien en die water  tot die gelatien  opgelos is en gooi by die appelkooskonfyt.  Meng deur en laat afkoel en gooi oor die tert en verkoel weer tot jy dit wil gebruik.