Melktert met kondensmelk-bolaag

 

Hierdie tert het ons altyd gekoop by Poyntons Cove tuisnywerheid.  Ek wou altyd die resep gehad het.  Jare daarna het ek op die reseppie afgekom in `n resepteboekie wat my lieflingsus Thea vir my gegee het!

 

2 eetl margarien

125ml suiker

2 eiers, geskei

125ml koekmeel

5ml bakpoeier

knippie sout

2 k melk

 

Bolaag

1 blik kondensmelk

125ml suurlemoensap

2-3 tennisbeskuitjies, gekrummel (indien verkies)

 

Voorverhit die oond tot 180 grade.  Smeer `n vlak 28cm tertbord met margarien.  Klits die margarien en suiker saam.  Voeg eiergele by en klits goed.  Meng die droë bestandele saam en voeg dit om die beurt met die melk by die eiergeelmengsel.  Klits die eierwitte saam en vou in by die mengsel.  Skep dit in die voorbereide tertbord en bak dit 30 minute of tot die tert gaar is en effens bruin van bo is.  Meng die kondensmelk en suurlemoensap saam en smeer oor die tert sodra dit uit die oond kom en effens teruggesak het.  Sprinkel die beskuitjiekrummels oor vir versiering.