Voorwoord

 

Hierdie resepteboek het sy ontstaan te danke aan al my proefkonyne deur al die jare.  Hierdie kokery het al begin toe ek nog baie klein was en ek op my ma se koolstoof al begin kook het in my “Hart” speelgoed pottestel.  My pa en ma en my hond, Trixie, moes menigmaal die spit afbyt om van my gebrande disse ontslae te raak.  Vir my pa, Louis, het ek geleer om al die lekkernye te maak waarna hy my gevra het, veral soetgoed.  Ma Thea is weer lief vir Suurlemoen koek sonder “icing”, soos sy dit altyd sę.

 

Ek wil veral my gesin, Beyers, Chris en Susan bedank dat hulle my so getrou deur die jare bygestaan het en dat hulle bereid is om as proefkonyne op te tree.  Hulle moet nog steeds alles toets voordat ek dit enigsens vir iemand anders sal voorberei.

 

Die resepte is nie almal my eie resepte nie maar staatmaker reseppies, wat ek orals gebedel het as ek daarvan gehou het.  Baie daarvan het ek al so gevarieer, om my eie sak, asook wat ek in die huis beskikbaar het, te pas.  Alles in die boek is beproefde resepte wat jy gerus kan probeer.  Ek glo nie aan baie fieterjasies nie en verander ‘n resep sommer blitsig.  Wanneer ek nie iets spesifieks beskikbaar het nie, improviseer ek, ook omdat ek op die plaas bly en nie vir elke klein dingetjie dorp toe kan ry nie.

 

Baie dankie vir almal wat hul resepte met my gedeel het deur die jare, nie almal is so vrygewig nie!  Ek waardeer dit opreg.  ‘n Groot dankie aan Millie en Freda vir die hulp om my boek saam te stel asook af te rond.  Sonder julle hulp sou my boek nie so goed gelyk het nie.

 

My rede hoekom ek besluit het om hierde resepteboek saam te stel, is om vir almal vir wie ek so liefhet en omgee, iets te gee om hulle aan my te herinner.  So bly al die familie resepte behoue vir altyd!

 

Jy kan gerus verder gaan en al jou gunsteling resepte ook hierby voeg en so ‘n onverbeterlike resepteboek maak met al jou gunstelinge daarin.

 

Ek hoop en vertrou dat elkeen wat hierdie boek kry, die resepte sal geniet en sal voortgaan met hierdie idee.

 

Baie liefde                                                                                      

Susan van der Westhuizen

Uitgawe 2