Wenke

As jy aartappels wil bak in die oond of in kookolie, laat dit geskil vir `n halfuur of langer in melk in die yskas, dit sal heerlik bruin braai en heerlik sag wees.

 

Lewer wat taai is, kan in asyn of suurlemoen geweek word.

 

Lemoene en suurlemoene moet vooraf in warm water geweek word, dan sal jy meer sap daaruit kan kry.

 

Plaas `n paar ryskorrels in die soutpot, dit sal verhoed dat die sout aanklam.

 

`n Ertjie in die peperpot sal verhoed dat die peper klonte vorm.

 

Om muf op die kaas te verhoed kan `n klam asynlap daarom gedraai word.

 

Voeg `n teelepel melk by die blomkool terwyl dit kook, sal pragtig wit kook.

 

Gooi `n klam doek oor `n koek wat te veel gerys het of `n koek wat gekraak het bo-op.  Dit verrig wondere.

 

Strooi `n bietjie meel bo-op `n koek wat jy wil versier, dit sal voorkom dat die versiersuiker afloop.

 

Strooi `n laag suiker onder in `n koekblik, dit sal sorg dat beskuit en kleinkoekies lank vars bly.

 

Verhit neute vooraf in die oond, dit sal die doppe makliker laat kraak.

 

Kap uie eerder, gerasperde uie gee `n bitter smaak af.

 

Voeg `n eetlepel asyn by kool wanneer jy dit opsit, sal die nare koolreuk verbeter.

 

Voeg `n eetlepel botter of margarien by beet wat jy kook, dit verhoed dat die water sal oorkook.

 

Wanneer jy eierwitte styf wil klop, voeg `n bietjie sout by, dit sal help om dit vinniger styf te maak.

 

Wanneer jy sukkel om room styf te klits, voeg `n paar druppels suurlemoensap by, sal dan vinnig dik klits.

 

As jy eiers kook, onthou om 1 teelepel sout en asyn by te voeg in die water, dit sal barste voorkom en maklike afdop.

 

Om `n deksel wat vassit los te draai, sit `n warm yster vir `n paar minute bo-op neer.

 

As sous te skerp smaak, voeg `n bietjie melk by.

 

Gooi `n stukkie botter in klaar gemaakte vla, sal verhoed dat dit `n velletjie vorm.

 

Koop klein hoeveelhede kruie, dit verslaan gou.  Vervang dit so een keer per jaar

 

Die vel van `n beestong sal vinniger aftrek as jy asyn by die kookwater gevoeg het waarin dit gekook het.

 

`n Makliker manier om knoffel se velletjies af te trek is om albei punte af te sny en die huisie onder die mes te plaas en daarop liggies te slaan.

 

Hou vadoeke sag deur dit in kouewater waarin Engelse sout opgelos is, te week.

 

`n Lekker skep appelkooskonfyt by kerrie geregte is net die ding om die smaak te verbeter.

 

Maak kluitjies oor stowe vleis as jy nie rys beskikbaar het nie.

 

Patats moet in soutwater geplaas word nadat dit geskil is, sal dan nie verkleur nie.

 

Blaarslaai sal weer lekker vars wees as dit in koue water waarby suurlemoensap gevoeg is, geweek word.

 

`n Bietjie suiker by tamatie, verbeter die smaak.

 

Sny altyd warm brood met `n warm mes.  Sal voorkom dat die brood so maklik breek.

 

As jy deeg knie in die winter en jy wil dit gou laat rys, plaas `n skoon 2 liter bottle waarin warmwater gegooi is, binne in die deeg. 

 

Voeg Nesquick by gewone versiersuiker, dit smaak heerlik.

 

Wanneer jy `n koek versier, doop die mes in skoon koue water, dit sal maak dat jy makliker kan versier en dit sal nie aan die mes vasklou nie.

 

Tertdeeg moet net aan die een kant uitgerol word, anders maak jy die lugblasies wat die deeg laat rys, stukkend en dan is die tekstuur van die kors nie so goed nie.

 

Maak jou eie suurroom deur `n bietjie karringmelk by room te voeg en dan `n nag lank in die yskas te laat oorstaan.

 

Vervang suurroom in `n resep met melk, maaskaas, room of gewone joghurt of as jy suurroom moet gebruik en jy het net vars room, voeg 1 teelepel asyn of suurlemoen by.

 

Maak amandels van grondboontjies deur twee of drie druppels amandelgeursel op grondbone te strooi.  Roer deeglik om goed te meng en laat oornag staan.

 

As jy `n koekversiersel aangemaak het en die mengsel is te slap of jou versiersuiker is op, voeg mielieblom by om dit stywer te maak.

 

Moenie jou pruimedante met suiker sag stowe nie, Bedek dit met `n vrugtesap van jou keuse en laat oornag staan.  Bedien met joghurt en muesli vir `n voedsame ontbyt.

 

`n Malvalekker onder in `n roomyshoringkie sal verhoed dat die punt pap sal raak wanneer die roomys begin smelt.

 

Appel wat saam met die aartappels in die aartappelsak geplaas word, verhoed dat die aartappels uitloop.