Kersie-maaskaasring

 

Hierdie nagereg het ek voorgesit aan ons Eenheid met een van ons eindjaarfunksies.  Hierdie nagereg is koel en lig, ideal om voor te sit na `n swaar maal.  Dit kan `n dag voor die tyd gemaak word en net voor opdiening ontvorm word.

 

1 blik swart kersies

1 pakkie framboosjellie   

250ml kookwater

125ml koue water

15ml gelatien

1 blik kondensmelk(397g)

1 houer gladde maaskaas(250g)

5ml vanieljegeursel

1 sakkie orley whip kitsversiersel

 

Dreineer die kersies en vul die gedreineerde sap met water aan tot 200ml indien nodig.  Maak jellie aan met 250ml kookwater en roer tot opgelos.  Voeg kersiesap by en laat afkoel in yskas tot dik, maar nie gestol nie.  Kap kersies grofweg en voeg by.  Spoel die vorm met koue water uit of spuit vorm met spray en cook uit.  Giet die jellie in vorm en plaas in yskas om heeltemal te stol.  Meng kondensmelk, maaskaas en vanieljegeursel goed saam.  Plaas die koue water in `n vuurvaste bakkie en sprinkel die gelatien bo-oor.  Roer en laat 30 min staan.  Verhelder die gelatien oor kookwater of plaas 25-30 sek in die mikrogolf by 100 persent krag.  Die mengsel moenie kook nie.  Voeg gelatien by kondensmelkmengsel.  Klits orley whip tot styf en vou in kondensmelkmengsel.  Giet kondensmelkmengsel bo-oor gestolde jellie en plaas in yskas om te stol.  Ontvorm net voordat dit voorgesit word.