Lemoenmarmelade

 

Ek het nog nooit van marmelade gehou nie omdat dit altyd `n bitter nasmaak gehad het, totdat ek hierdie konfyt geproe het.  Voorwaar heerlik!

 

3 soetlemoene

1 suurlemoen met die dun skil

water

suiker

 

Was die lemoene en suurlemoen en sny al die lelike plekkies aan die skille af.  Snipper die vrugte fyn en verwyder die pitte.  Meet die snippers en voeg 750ml water by elke 250ml snippers.  Laat dit oornag staan.  Verhit die mengsel die volgende dag en kook dit sowat 30 minute tot goed sag.  Dit is sag genoeg as jy `n vuurhoudjie maklik deur die skil kan druk.  Meet weer die mengsel, snippers en vloeistof, en voeg 250ml suiker vir elke 250ml snippers.  Verhit dit in `n groot kastrol met `n dik boom en roer totdat die suiker gesmelt het.  Kook die marmelade taamlik vinnig sonder die deksel totdat die stroop dik is, voeg `n klontjie botter of margarien by as dit te veel skuim.  Skuim die marmelade gereeld af terwyl dit kook.  Om vas te stel of die stroop dik genoeg is moet jy `n bietjie daarvan in `n piering skep en in die vrieskas sit vir `n rukkie om vinnig af te koel.  Dis dik genoeg wanneer dit plooitjies vorm as jy dit met jou vinger stoot.  Skep die warm marmelade in droë, gesteriliseerde flesse en verseël.  Lewer omtrent 3,5l marmelade.