Ongelooflike muffins

 

Hierdie reseppie kom uit een van my wenresepte en word baie in my huis gebak.  Die deeg hou werklik sowat `n maand in die yskas.  Elke keer bak jy net soveel muffins as wat jy nodig het en voeg dan natuurlik net waarvoor jy lus is bv rosyne, klapper, dadels, of appel, vrugte of neute.  Die resep lewer 5 tot 7 dosyn muffins afhangend van die grootte van jou kolwyntjie panne

 

6x250ml semels

500ml kookwater

250ml botter of margarine gesmelt

750ml suiker

4 eiers geklits

1lt karringmelk

25ml koeksoda

625ml koekmeelblom

625ml volkoringmeel

10ml sout

rosyntjies, klapper, gekapte appel, dadels of vrugte na smaak

 

Voorverhit oond tot 220 grade.  Smeer die kolwyntjiepanne.  Meng die semels en kookwater in `n mengbak.  Voeg die botter of margarine by en laat die mengsel effens afkoel.  Voeg die suiker, eiers en 750ml van die karringmelk by en meng.  Meng die koeksoda en oorblywende 250ml karringmelk, voeg dit by die semelmengsel en meng.  Meng die koekmeelblom, volkoringmeel en sout.  Voeg die rosyntjies of waarvoor jy lus het by.  Voeg hierdie mengsel by die semelmengsel en meng.,  die deeg is slap.Skep die holtes van die kolwyntjiepan twee derdes vol deeg.  Bak die muffins 20 min op die middelste oondrak.  Keer hulle versigtig op `n draadrak uit om af te koel.  Eet hulle net so, of gesmeer met botter of margarine.