Mikro-maklike mosbeskuit

 

Hierdie resep het ek uit Huisgenoot gekry.  Al gebruik mens suurdeeg is dit nog steeds `n maklike resep sonder fieterjasies.  Ek bak myne in my gewone oond by 180 grade omdat ek nie baie daarvan hou om my mikrogolf vir gebak te gebruik nie.  Beyers eet hierdie beskuit net so nat nog voor ek dit kan droog.

 

5 pakkies (500g elk) plus 750ml koekmeel

15ml sout

2 pakkies(10g elk) kitsgis

25ml anys

750ml suiker

5 eiers geklits

1 blik (397g) kondensmelk

5 kondensmelkblikke vol lou water

450g botter, gerasper

 

Spuit `n langwerpige tupperwarebak met kleefwerende middel of broodpanne sou jy dit in die gewone oond gaan bak.Sif die koekmeel en sout saam.  Voeg die kitsgis, anys en suiker by en meng goed.  Klits die eiers, kondensmelk en lou water saam.  Voeg by die meel mengsel en meng goed.  Knie totdat diedeeg nie meer aan jou hande vassit nie.( Voeg nog koekmeel by as die mengsel te slap is)  Maak dit liggies toe met kleefplastiek en laat op `n warm plek rys vir ongeveer 2 uur lank tot die deeg se volume verdubbel het.  Voeg die gerasperde botter by en knie dit in.  Knie tot jou hande amper skoon kom van die deeg.  Maak weer toe en laat rys weer sowat 1 uur lank totdat die deeg hoog uitgerys is.  Moenie afknie nie.  Knyp stukke deeg af en vorm bolletjies so groot soos tennisballe (grootte na jou keuse).  Pak styf teenmekaar in die tupperwarebak of die broodpanne.  Mikrogolf 1 min lank by 100% krag net om die rysproses aan die gang te sit.  Laat staan dan totdat die beskuit goed uitgerys is en die bak amper vol is.  In die gewone stoof metode gaan jy dit net toemaak totdat dit die verlangde hoogte gerys het.  Mikrogolf dan 15 min lank onbedek by 100% krag.  Laat staan 5 min lank en keer dan uit.  Breek in bolletjies en verdeel elke bolletjie weer in twee terwyl dit nog warm is.  Droog die beskuit in die gewone oond uit by 100 grade.  Lewer omtrent 150 stukke beskuit.