Mosterdring

 

Hierdie resep is heerlik saam met koue vleis, braaivleis, skaapboud of hoender.  Ek maak dit altyd in `n ring en vul die holte met aartappelslaai of tamatiewiggies en komkommerskyfies.  As jy wil uithang, is dit net die ding om te maak.

 

4 eiers

250ml water

125ml asyn

175ml witsuiker

15ml gelatien

15ml mosterdpoeier

2ml borrie

1ml sout

250ml room

 

Klits die eiers in die boonste deel van `n dubbelkastrol.  Klits die water en asyn by die eiers.  Meng die suiker, gelatien, mosterd, borrie en sout en meng dit baie goed met die eiermengsel.  Plaas dit oor kokende water en roer aanhoudend totdat die mengsel effens dik is.  Laat dit afkoel tot lou, maar roer kort-kort sodat daar nie `n vel vorm nie.  Klits die room tot styf en vou by die mosterdmengsel in.  Giet dit in `n ringvorm wat met spray en cook gespuit is  en laat stol in die yskas.  Ontvorm die slaai op `n mooi slaaibord en vul en garneer soos jy verkies.