Ronel se roompoffertjies

 

Hierdie reseppie kom van `n kollega af wat dit vir my gegee het.  Dit het intussen weggeraak en ek moes haar in Pretoria opspoor waarheen sy verplaas is, sodat ek dit weer kon kry.  Hierdie is Chris my seun se gunsteling en hy wil altyd weet wanneer ek daarvan maak.  Ek maak hulle lekker groot, soos `n mens vir `n groot man sal maak!

 

Deeg

250ml kookwater

125ml margarien

250ml gesifte koekmeel

2ml sout

4 groot eiers

 

Vulsel

500ml room

25ml strooisuiker of na smaak

2 ryp piesangs, fyn gedruk

1ml vanieljegeursel

 

Bolaag

300ml versiersuiker

75ml kakao

15ml margarien

30ml kookwater

 

Gooi kookwater in `n kastrol, roer botter by en verhit tot gesmelt.  Roer meel en sout alles tegelyk met `n houtlepel by sodra vloeistof vinnig opkook.  Roer vinnig totdat mengsel `n stywe bal vorm en nie meer aan kante vasklou nie.  Haal van stoof af en klop `n minuut lank en laat sowat 5 min afkoel.  Voeg eiers een vir een by en klop goed na elke byvoeging.  Skep teelepelsvol op `n gesmeerde bakplaat.  Bak 10 min by 220 grade en dan 25 min by 180 grade.  Maak `n snytjie in een kant van elke poffertjie sodat stoom kan ontsnap en laat afkoel.  Klits room styf, voeg strooisuiker, piesangmoes en geursel by.  Meng goed en skep in poffertjies.  Sif versiersuiker en kakao saam.  Roer botter by en maak met kookwater aan tot `n halwe dik glansversiersel.  Smeer op poffertjies en laat styf word in koelkas.  Lewer 3 tot 4 dosyn poffertjies.